Die storie van hierdie klein straatjie is interessant omdat dit ons vertel van die mense wat in Van Riebeeckstraat gewoon het voordat dit grond gebruik is vir koshuise soos Heemstede en Metanoia.
Dis moeilik om te dink die klein straatjie se storie pas ook in 'n groter storie, dié van die Tweede Wêreldoorlog.
Henry Wicht was 'n melkboer wat saammet sy pa op Lanzerac geboer het. Hy sou die plaas by sy pa oorneem, maar die gesin het mettertyd gevoel hul wil nader aan die dorp skuif (Lanzerac voel vir ons naby aan die dorp, maar destyds het meeste mense nie motors besit nie.)
Die gesin het in 1921 ‘n huis gekoop in Van Riebeeckstraat, bekend as Lindeshof, die huis van Jan Linde Beyers. Henry Wicht en sy vrou Jo (gebore Claassens) het 3 dogters en 'n seun gehad. Die Wicht familie het ‘n koei aangehou op die erf, en omdat Henry se vrou Jo ‘n goeie tennisspeler was, het hul ‘n tennisbaan gehad. Jo was ook, volgens oorlewering, die dorp se eerste vroulike motorbestuurder.
Met die uitbreek van die oorlog, vertel die skrywer Annie Hofmeyer, het die hele gesin vir diensplig aangesluit. Ongetwyfeld was hul deelname omstrede omdat Afrikaanse en Engelse belange op daardie stadium heelwat konflik veroorsaak het in Suid Afrika. Nietemin word daar geglo dat daar altesaam meer as 24 075 vroue in Suid Afrika as voltydse vrywilligers deelgeneem het in die oorlog. In die weermag is Henry tot kolonel bevorder.
Gelukkig het geen van hulle iets oorgekom nie, en kon die gesin na hul tyd in die weermag na hul gewone lewe teruggekeer. Henry Wichs het ‘n belangrike figuur geword by die Stellenbosch eksekuteurskamer sowel as ‘n bekende afslaer.
Die Wicht's het besluit om die klein doodloopstraatjie agter hul huis na Jo se ouers, Mnr en Mev J.H. Claassen, te venoem. Vandag is Claassenstraat ‘n klein kampusstraat wat na Heemstede en Metanoia lei, en aan die anderkant doodloop in die Skuilhoek parkeerarea. Die huis self het ongelukkig in die slag gebly toe die eiendom gekoop is deur die universiteit.
Nog twee bekendes wat in Van Riebeeckstraat gewoon het was Paul Roos en G.G. Cillié - lees hul storie hier.