Het jy geweet een van Stellenbosch se oorspronklik koringmeule was geleë op die ‘meulplein’ of ‘mill square’, vandag die klein pleintjie tussen Vida e Caffé, Mugg and Bean en die Rynse Kerk? Dit is die rede hoekom ons name het soos De Oude Meul Guest house, Mill Coffee House en uiteraard Meulstraat.
Trivia oor die meul
-
- In die hoofstuk oor die destydse sosiale lewe van Stellenbosch (in Stellenbosch drie eeue) word vertel dat die jongmense by geleentheid in die ou meul aan Meulplein danse en partytjies gehou het, ‘tussen die meelsakke’.
- Sebastian Schröder, die eienaar van Schröder huis (wat sover ons weet die oudste woonhuis in Stellenbosch is), was vir ‘n tyd lank aangestel as die 'sekretaris' van die meul.
- Volgens legende was dit by die meul aan die bopunt van Dorpstraat waar 'n woordwisseling ontstaan het tussen die landdros Starrenburg en 'n jong man met die naam Hendrik Bibault. Hier en Hendrik Bibault uitgeroep, ‘Ik ben een Africaander’, die eerste keer wat die term gebruik is om te verwys na ‘n Europeër wat in Afrika woon.
Die storie van die meul
Die heel eerste openbare bedryf in Stellenbosch was waarskynlik dié van die meulenaar. Minder as 10 jaar na die dorp se stigting is die behoefte uitgespreek om ‘n plaaslike waterwiel te bou om koring mee te maal - anders moes die inwoners 'n dagreis na Kaapstad onderneem om hul koring daar te gaan maal. Stellenbosch se eerste meul was waarskynlik aan die onderkant van die dorp waar die plaas 'oude molen' destyds op die kaarte aangedui is. Voorsien van water wat uit die Eersterivier tot by die Plankenbrugrivier vloei, het die die ou meul waarskynlik gestaan in Alexander straat waar Landrover/Porsche vandag is (google street view hier).
'n Verskeidenheid meule is daarna gebou, maar almal is gesloop en baie van die oorspronklike details verlore. Daar was byvoorbeel ook 'n meul aan die bopunt van Dorpstraat waar die pastorie van die NG kerk mettertyd sou wees en waar Utopia tehuis vir bejaardes vandag is (hierdie skuisgedraaide geboutjie is sigbaar op meeste van die vroeë dorpskaarte). Hierdie vroeë meul was baie blootgestel aan wintervloede en kenners meen die dam- en geut-struktuur van die meul het baie skade gekry.
Die meul plein ontwikkel
In 1749, toe die dorp omtrent 70 jaar oud is, is daar besluit om weer ‘n meul te bou. 'n Plek is identifiseer naby die braak (of excercitie plaats) en 2 morg grond (omtrent 1.7 hektaar) uit die plaas voorgelegen afgestaan vir hierdie doel. Hierdie area, waar die Checkers sentrum, Mugg & Bean en die Rynse kerk staan, is vandag nog bekend as die meulplein of 'mill square' (hierdie meul is a angedui op Hertzog se kaart van 1817).
Daar was in daardie dae heelwat politiekery oor die bedryf van die meul. Die landdros en heemrade het die meul besit vir meer as 100 jaar, wat die regering so te sê ‘n monopolie gegee het op hierdie diens. Hieroor het jare lank ongelukkigheid geheers - baie inwoners het probeer onderhandel om privaatmeule te mag bedryf teen sekere terme en voorwaardes. In 1804 word daar besluit om uiteindelik die meul as ‘n privaatonderneming te laat funksioneer, en is dit jaarliks verhuur teen ‘n vaste som. Dit was dan die verantwoordelikheid van die privaat meulenaar om die meulsloot, wat vanaf Mostertsdrif tot by die plaas Oude Molen loop, in stand te hou.
Die meulstroom
Op plekke is die meulstroom met klippe uitgevoer (soos waar dit verby Heemstede se gras, die botaniese tuin en die stadsaal loop). Ander dele van die meulstroom ken ons as die wandelpad, ook bekend as lover’s lane, waar die stroompie verby Van Riebeeckstraat se sirkel en agterom Rowan Straat, Thibaultstraat en Zwaanswyk loop.
Destyds is hierdie stuk grond getransporteer op die naam van die ‘Colonie van Stellenbosch’, en staan daarom vandag nog as Koloniesland bekend.
Vandag is die meulsloot ‘n nasionale kultuurerfenisgebied. Die beskermde area strek onder meer vanaf Mostertsdrif tot by Marias straat, tussen Van Riebeeckstraat tot by Andringa straat, tot by die hoek van Skone Uitsig Straat en Alexanderstraat (kry meer inligting hier en hier).
Volg gerus die Stellenbosch erfenisstigting op Facebook vir brokkies oor die meulprojek!
Ook: Het jy geweet Stellenbosch het nie net die Eersterivier nie, maar ook die Blouklipriveer, Kromriveer en die Plankenbrugrivier? Lees hier om meer oor hierdie rivier en hul name uit te vind.