Die storie van die meulsloot

by 'nDromer | Local News

Verlede week het ek geskryf oor die ontstaan van Dorpstraat, die ‘wagenweg naar de Kaap’.

Het jy al agtergekom Dorpstraat is nie baie breed nie?

Dit is omdat daar leiwaterslote aan weerskante van die pad is.

Waarom is mense so gesteld op die behoud van die meulsloot en die leiwaterslote?

 

In 1999 is 'n baie deeglike studie gedoen deur CHITTENDEN NICKS de VILLIERS, environmental planning, urban design, landscape architecture, oor die belang van die meulsloot in Stellenbosch se karakter en erfenis. Hulle het bevind dat daar baie waarde is in die oop ruimtes wat deur die Meulsloot en omliggende areas gebied word.

Dit sal van baie waarde wees om die estetiese spasies van die meulsloot te benut en te bestuur, 'n belangrike aandeel tot die landelike kwaliteit waarvoor Stellenbosch so goed bekend is, maar wat dikwels deur ontwikkeling bedreig word.

img_4810

 

'n Boek oor die meulsloot

In 1967, rondom die 300 jaar bestaan van Stellenbosch, is daar 'n boekie uitgegee oor die Meulsloot, geskryf deur Annie Hofmeyr. Sy het 'n passie gehad vir die dorp en sy geskiedenis en het baie navorsing gedoen oor die verlede.

In die voorwoord tot haar boek skryf Paul Sauer:

Dwarsdeur Stellenbosch, van bo in Mostertsdrif to onderkant die treinspoor, loop die geskiedkundige meulsloot, die hartaar wat lewe gebring het aan Van der Stel se Colonie en waarom Stellenbosch gegroei en gebloei het. Dit het eers die vryburgers se lande benat, op die geil besproeiingsgrond het later die dorp gekom en die dorp het sy groot bydrae tot ons land en geskiedenis gemaak. Die sloot loop nog - hy sal vir geslagte nog loop. Sonder hom sou Stellenbosch 'n ander en 'n mindere plek wees.  

Die vryburgers en hul meule

Vir Stellenbosch se eerste vryburgers was die leivore die enigste manier om koring in hul meule te maal en besproeiingswater vir hul plase te kry. Daar was nie elektriese pompe of plastiekpype nie.

'n Sloot is gebou wat die water van bo uit die Eersterivier sou neem tot onder in die dorp. Uit die meulsloot is kleiner slote gegrawe om al die plotte en plase te berei..

Die eerste privaat eienaar van die meul, J.W. Palm, het rondom 1804 inisiatief aan die dag gelê om die sloot met rivierklippe uit te lê - dit het die water vinniger laat loop. Die klippe waarmee die sloot uitgelê is, is op plekke nog die oorspronklikes! 

 

Wie beheer die water?

"Vanaf die begin is die gebruik van water behoorlik gekontroleer en is selfs boetes gehef vir oortredings", verduidelik Annie Hofmeyr. Enigiemand wat al in 'n hofsaak betrokke was oor waterregte, sal weet hoe belangrik en kontroversieel die gebruik van water kan wees.

Een van die eerste hofsake rondom die meulsloot is in 1882 gemaak toe die meulenaar Mnr W Hunt die munisipaliteit aankla oor 'n ontwikkeling wat hulle m.b.t. die meulsloot beplan. Hy wen die saak en kry R4000 skadevergoeding.

 

Moderne tegnologie vervang die meulsloot

Nuwe waterskemas het gevolg rondom 1910, is die dorp se water direk met pype uit die rivier herlei en die meusloot heeltemal uitgeskakel.

 

So alhoewel dit nie meer funksioneel gebruik word nie, is dit nou 'n monument en aandenking. Natuurlik is dit ook lekker vir kinders om met bootjies in die leivore te speel!

‘n Sekere dr J.E. Holloway vertel dat hy as kind in Stellenbosch in 1897 nooit skoene gedra het in somervakansies nie (behalwe op Sondae). As ‘n mens op ‘n warm dag in die dorp loop, was daar orals helder stroompies water waarin jy kon loop.

 

Die meulsloot vandag

 

Vandag is die meulsloot tot ‘n nasionale kultuurerfenisgebied verklaar. Die beskermde area strek vanaf Mostertsdrif tot by Maraisstraat, tussen Van Riebeeckstraat tot by Andringastraat, en die oostelike grens erf 6460 op die hoek van Skone Uitsigstraat en Alexanderstraat.

Een van die oorspronklike koringmeule (aangedui op Hertzog se 1817 kaart) was geleë op die ‘meulplein’ of ‘mill square’. 
 


 

Artikel en Fotos: Y Coetsee 2017
Bronne: Die Meulsloot (1976) Annie Hofmeyr
Stellenbosch Drie Eeue (1979)