Aan die Westekant van Stellenbosch loop die Plankenbrugrivier, waarlangs daar 'n aantal industriële besighede is, soos
die kaasfabriek,
motor parte en werktuigkundiges,
self-stoor
events hire
hout en konstruksiemateriale.
Baie mense wonder of dit plankenBURG of plankenBRUG is.
Eintlik is daar is 'n interessante storie agter die naam...
Nie net die Eersterivier
Die Eersterivier is nie die enigste rivier in Stellenbosch nie.
Die Bloukliprivier, wat vanuit die berge bo Stellenbosch vloei, loop verby De Zalze, en kom dan naby die Vlottenburgstasie in die Eersterivier byeen. Ek raai dit is van ‘Bloukliprivier’ wat die plaas ‘Blaauwklippen’ sy naam kry.
Iets soos brûe is vir moderne Stellenbossers amper vanselfsprekend, maar vir die ou burgers was dit 'n groot uitgawe in hul klein nedersetting.
1690 - Stellenbosch kry 'n brug
In die notule van 21 Augustus 1691, besluit die Heemraad (destydse 'stadsraad') dat Stellenbosch 'n brug nodig het. Die belangrikste brug sal aan die onderkant van die dorp moet wees sodat perdekarre en ossewaens maklik oor die river kan kom wanneer hul na die Kaap van Goeie Hoop moet reis.
Die drostdy het net geld om een brug te bou. Dit moet oor die Dwarsrivier gaan, “over de dwarsryvier by Hans Jurgen Grimpe in de hoek”.
Hans Jurgen Grimpe was die burger wat al die grond besit het vanaf die voet van Papegaaiberg tot waar Distell vandag is.
Die ‘hoek’ waar die brug gebou moet word is by die kruising van die Eersterivier en die Dwarsrivier, min of meer waar Bosman’s crossing vandag is. Die Dwarsrivier was een van sy grenslyne. (Behalwe vir die 44 morgen wat hy in 1690 kry, bekom hy in 1692 ook die plaas Libertas toe hy met die bekende Adam Tas se weduwee trou.)
'n Brug vir Hans Grimpe
Die heemraad besluit om vir Hans Grimpe te vra vir 'n stuk van sy grond vir die brug. In ruil daarvoor word hy vrygeskeld van ander ‘burgerdienste’, soos om paaie te bou en te onderhou.
Twee bouers word aangestel om die brug te bou (en klippe daarvoor te breek) teen Rds. 50.
Die konstruksie word in 1691 voltooi, en staan bekend as die ‘Steenebrug’, omdat dit van klip gebou is. Grimpe het 7 jaar later nog ‘n steenbrug op sy plaas Libertas gebou, hierdie keer oor die Eersterivier.
Wat dan van die Plankbrug?
Dit lyk of die ‘Plankenbrug’ eers 'n paar jaar later gebou is. Die landdros het dit laat bou iewers tussen 1707 en 1729.
Die deel van die Dwarsrivier waaroor die houtbrug geloop het het mettertyd bekend geraak as die Plankenbrugrivier, en die omgewing ook die naam Plankenbrug aangeneem.
As jy meer wil lees oor die plaas libertas, kyk na ons blog oor Libertas, Klein Libertas en Libertas Parva. Daar is ook heelwat interessante feite oor hierdie era in Stellenbosch se geskiedenis in die burger Adam Tas se dagboek.
#leefstellenbosch
#annabassoneiendomme
‘nDromer is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die alledaagse dinge wat mens maklik miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy skryf sedert 2015 elke week iets oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.
Artikel en hooffoto: Y Coetsee 2017
Bronne: Stellenbosch Drie eeue (1979).