In die 1800's was Pleinstraat een van die deftigste strate in Stellenbosch met heelwat Victoriaanse tweeverdiepinghuise. Maar omdat Pleinstraat die sakekern van die dorp was, het meeste van die ou geboue intussen plek gemaak vir nuwe onwikkelings.
Vandag is daar nog net 'n paar oorblyfsels van die vroeë geskiedenis in Pleinstraat oor, al was dit een van die eerste 4 strate.
1. Die Poortjie
Het jy al ooit opgelet daar is 'n klein ingangspoort langs specsavers (naby Anna Basson eiendomme)? Hierdie wit ingang met sy klein gewel is een van die oudste stukkies bouwerk wat in Pleinstraat oorgebly het (dit dateer voor die 1800s). Vandag is dit 'n nasionale gedenkwaardigheid.
2. De Witt-huis langs die stadsaal
Hierdie wit geboutjie (foto onder) tussen die stadsaal en die Absa gebou is die enigste huis wat aan die noordekant van Pleinstraat oorgebly het (De Witt-huis, nr 30). Die huis is intussen verleng en lyk of dit verbind is aan die stadsaal en biblioteek.
3. De Wet square/ De Wet gebou
Die De Wet gebou herdenk twee bekende besigheidsmanne in Stellenbosch, die De Wet-broers. Koos en Jan de Wet is in die 1800s aangeneem as weeskinders deur die Van Coller gesin en het in die familiebesigheid begin werk op die hoek van Birdstraat en Kerkstraat. Albei broers was hardwerkend en aangelê vir besigheid. Toe hul pleegvader sterf in 1897 (dit is die datum op die De Wet gebou onder) het die broers geld geleen om die winkel te koop. Die Gebrs. De Wet besigheid het vooruitgegaan en later landswyd bekend geword. Sover ek weet het die De Wet familie vir drie geslagte lank die besigheid bestuur.
Nog befaamde Stellenbosch besighede is Joerning se apteek, Mnr Samie Voldsteedt se kruidenierswinkel in Dorpstraat, en Mnr Du Toit se skoenwinkel en herstelplek.
Ydi is 'n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die dinge wat mense miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en spinnerakhuise en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy geniet dit om skryf en lees oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.
Artikel en Fotos: Y Coetsee 2017
Bronne: Stellenbosch Drie Eeue (1979)
Stellenbosch ons oudste dorp - Stellenbosch 300 aksie
Om te lees van die ou Bloemhofgebou wat in Pleinstraat was, click hier.
Om te lees van die oudste vier strate in Stellenbosch, click hier.