Stellenbosch se eerste onderwyser was Sybrand Mankadan.
Maar hy was nie ‘n onderwyser soos ons nou daaraan dink nie.
Kontroversiële figuur
Mankadan het ‘n agtergrond in teologie gehad, maar a.g.v. sy 'onstigtelike optrede' in Friesland (‘n provinsie in Nederland) is hy geskors uit die bediening. Hierna is hy met 'n skip na die klein nedersetting, Stellenbosch, gestuur as onderwyser.
Soos een skrywer tong-in-die-kies skryf, “his love for drinking was only surpassed by his love for women”. Dis met goeie rede dat sommige mense die ‘krankbesoeker’ ook die ‘drankbesoeker’ genoem het.
Nogtans was Mankadan die enigste persoon op Stellenbosch met ‘n universiteisopleiding, en is daarom aangestel as die eerste sekretaris van die Landdros en Heemrade (hul eerste notule verskyn in 1691).
Ten spyte van sy persoonlike lewe, was Mankadan in sy eie reg ‘n goeie pioniersonderwyser en het hy sy merk op Stellenbosch se erfenis gelaat (vandag het hy 'n wyn na hom vernoem).
Stellenbosch het 30 gesinne
Opvoeding was nie ‘n baie hoë prioriteit vir die meeste pioniers nie – dit was genoeg om Bybel te kan lees en bietjie te kan skryf (C Pretorius).
Stellenbosch het nietemin die behoefte gehad aan 'n sieketrooster-onderwyser. Op 28 September 1683, stuur die dorp versoek aan die owerhede vir 'n onderwyservir die 30 gesinne se kinders .
Sybrand Mankadan word daarom gestuur as onderwyser, prediker en sieketrooster.
Wat is 'n sieketrooster-onderwyser?
Sieketrooster is 'n beroep wat lankal uitfasseer is. Dit was ‘n ‘geestelike amp’ en het onder andere die take van predikant vervul wanneer daar nie ‘n leraar was nie. Mankadan moes sterwendes en siekes besoek, versorg en bemoedig . Hy is daarom ook die ‘krankbesoeker’ genoem.
Die sieketrooster se take het reeds begin op die skip, wanneer hy siekes moes besoek, moes toesien dat die matrose soggens en saans bid voor ete en dat daar op Sondae ‘n voorlesing gedoen word. Daarmeesaam was hy die skeepsdokter se assistent (Claasens).
Sy pligte in Stellenbosch
Een van Mankadan belangrikste pligte was dié van voorleser en toesighouer oor die gemeente. Die dorp se eerste predikant, Ds Loon, het eers in 1700 gekom, so vir die eerste paar jaar is daar op Sondae voorlesings uit die kategismes en ander Hollandse tekste gedoen.
Mankadan was verantwoordelik om katkisasie (sondagskool) aan te bied vir die jeug.
Hy was skoolmeester en verantwoordelik om kinders te leer lees, skryf, nootvas te sing en die basiese beginsels van rekenkunde te verstaan.
Nog 'n taak van die sieketrooster was om die sang van die gemeente te lei. (Blykbaar was heelwat sieketroosters se aansoek tot die amp aanvanklik afgekeur omdat hulle nie al die Psalms geken het nie) (J Erasmus).
Omdat die sieketrooster/onderwyser gewoonlik die mees geletterde persoon in die dorpie was, was hy die algemene kunstenaar en kalligrafieskrywer. Hy moes testamente opstel, geslagsregisters skryf, geboorte aandenkings en ander dokumente skryf en versier, nuwejaars- en gelukwensingskaartjies maak, kunstige versierings maak in liedboeke en voorin Bybels. Dikwels was dit ook sy taak om grafstene te skryf en versier.
Klik hier vir nog geskiedenis oor die Sieketroosters.
Bronne:
Stellenbosch drie eeue
South African History Online http://www.sahistory.org.za/article/1600s
http://www.teddyhallwines.com/Page.aspx?PAGEID=2624&CLIENTID=5027
http://www.stamouers.com/28-burgers/occupations/683-beroepe
J Celestine Pretorius, Die geskiedenis van Volkskuns in Suid-Afrika