Die storie van Van Riebeeckstraat

by 'nDromer | Local News

Van Riebeeckstraat lê tussen Pleinstraat en Jonkershoekweg.

Een van Stellenbosch se erfeniskenners, Mev Annie Hofmeyr, het 'n boek geskryf oor hierdie straat, en vertel huis-vir-huis die geskiedenis daarvan.

 

 


Verskillende name

Sy verduidelik Van Riebeeckstraat het 3 verskillende name gehad. Die name 'Kerkstraat' en 'Andringa' is heelwat ouer. Maar Van Riebeeckstraat is eers sedert 1906 in gebruik geneem. So is dit aangeteken in ‘n notule van die Stellenbosch-raadsvergadering.

  • Die eerste naam was De Wagenweg naar Jonkershoek 
  • Daarna was dit verkort na Jonkershoekweg (die tweede deel van die straat het nogsteeds daardie naam)
  • en vandag is dit Van Riebeeckstraat.

   


Kommandeur van die Kaap

Die straat is natuurlik vernoem na Jan van Riebeeck, die eerste kommandeur van die Kaap.

Maar het jy geweet sy vrou was nie Hollands nie, maar van Franse afkoms?

Helena Liebenberg, 'n erfeniskenner van Stellenbosch, skryf die volgende oor Maria van Riebeeck:

Maria de la Queillerie wat van Hugenote-herkoms was, het ’n geweldige groot en ondersteunende rol aan die sy van haar man gespeel. Die Franse biskop Nicolaes Etienne wat die Kaap besoek het, beskryf haar in 1661 as een van die wysste vroue wat hy ooit ontmoet het. “Sy word deur almal bemin” skryf hy.

 


Die Van Riebeecks plant 'n tuin

Toe die gesin en res van die geselskap in 1651 uit Nederland vertrek, was hul opdrag om vars vrugte en groente te begin kweek in die Kaap, en om 'n fort te bou. Hul het met drie klein skepies, die Drommedaris, Reijger en Goede Hoope gevaar.

Die kompanjiestuin in Kaapstad is waar hul met grootskaalse tuinbou begin het.

In die eerste jaar is daar geplant:

  • Turkse boontjies,
  • anys, vinkel,
  • als, mispel,
  • kweperpitte, appelpitte,
  • Spaanse lemoenpitte,
  • andyvie,
  • boerboontjies,
  • geel- en rooibeet,
  • moesgroente bekend as warmoes,
  • komkommers en pampoen,
  • uie,
  • waatlemoene en ander meloene
  • katjangboontjies

Namate die bome begin vrugte dra , was daar:

  • appelkose,
  • lemoene,
  • nartjies,
  • suurlemoene,
  • bitterlemoene,
  • appels,
  • pere,
  • pruimedante,
  • perskes,
  • koejawels,
  • granate,
  • vye,
  • piesangs,
  • pynappels,
  • amandels,
  • okkerneute en bessies.

Bogenoemde inligting verskyn in die navorsing van Helena Liebenberg, kontak ons as jy meer wil weet.

 


Bron: "Van Riebeeckstraat (noord)" Annie Hofmeyr


1700's tot 1900's

As die Wagenweg na Jonkershoek was Van Riebeeckstraat ‘n stil, afgeleë grondpad wat, danksy sy nabyheid aan die vallei, nogals gevaarlik was. Jan van Ceylon het blykbaar nog in 1712 ‘n "verdwaalde leeu" (waarskynlik 'n luiperd) daar geskiet.

Selfs in die vroeë 1900s het Van Riebeeckstraat ‘n landelike karakter behou:

  • Die straat is gebruik om die dorpsinwoners se melkkoeie te laat aanjaag na die weiplek buite die dorp.
  • Meeste inwoners het groot groentetuine of ‘n stuk wingerd gehad.
  • Kapkarre met perde was die algemene ryding.
  • Kinders het in die ou dae akkers versamel en 1 pennie vir elke blik betaal is – die akkers is gebruik as kos vir die varke.

Daar het heelwat blomme in en rondom die meulsloot gegroei. Mev Hofmeyer onthou varkblomme, moederkappies, aandblomme, viooltjies en hondsroos.


Die eerste kopers

Die eerste persoon wat eiendom in Van Riebeeckstraat besit het, was 'n sekere Mev Rachel Faure (néé de Villiers). Beide sy en haar man (die dorp se voorleser onderwyser), was kinders van Franse Hugenote-ouers. Nadat haar man oorlede is (1736) het die kerk vir haar ‘n stuk grond gegee in Van Riebeeckstraat.

Haar erf het al die pad vanaf Decameron tot by die Jan Marais park gestrek (dit was 14 Morgen groot, d.w.s rondom 12 hektaar).

Die grond het vir 5 geslagte in die Faure familie gebly, verduidelik Annie Hofmeyr. 


Plaaslike klagtes en 'n petisie

Blykbaar was daar in 1966 voorgestel dat Van Riebeeckstraat verbreed moet word a.g.v. verkeersvloeiprobleme.

Die inwoners het soveel protes gemaak teen die verandering dat die plaaslike koerant se briewekolom amper oorstroom het.

‘n Petisie met 1200 handtekeninge is by die Munisipaliteit ingedien en die plan is uiteindelik laat vaar. 


>


 

Click hier om te lees van nog 'n paar Van Riebeeckstraat inwoners.

Lees hier oor waar die Braak sy naam vandaan kry


Ydi is 'n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die dinge wat mense miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en spinnerakhuise en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy geniet dit om skryf en lees oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.

 

 

 


Bronne: Annie Hofmeyr (1990) Van Riebeeckstraat, Stellenbosch (Noordekant).
Stellenbosch Drie eeue 1979
Artikel deur Helena Liebenberg "Jan en Maria van Riebeeck, 6 April 1652"