Elkeen van die plase rondom Stellenbosch het sy eie stories van grond en mense. So wat is die storie van Boschendal? En hoe pas mense soos Merriman, Rhodes en Herbert Baker daarby in?
My spore het my gelei na die Franse Hugenote, die vlugtelinge, of 'refugees' van die Simonsbergvallei.
DIE WAS DIE FRANSE HUGENOTE?
Net soos vandag in die Midde-Ooste, het die geloofsoorloë van die 1500's baie families genoop om te vlug, en op 'n nuwe plek 'n begin te maak.
Honderde Franse gelowiges het na kolonies soos Suid-Afrika gevlug. Hul 'trade' was wingerd en wynkunde. Hulle is die Franse Hugenote genoem, vanaf "Eid" (eed/‘oath’) + Genoss (genoot/‘associate’) en het Stellenbosch in 1688 bereik, omtrent 10 jaar na die klein dorpie Stellenbosch gestig is (1679).
Baie van die hugenote het vir ‘n tyd lank in tente op Stellenbosch gewoon totdat hul hul eie grond en plase kon bekom. Daana het meeste hulself gevestig in die areas wat vandag Franschhoek, Paarl, Drankenstein, Wellington en Simondium is. Simondium is vernoem na hul predikant, ds Simond (sommige meen dat Simonsberg ook na hom vernoem is.)
Franschhoek is nie meer deel van Stellenbosch nie, maar destyds het die hele vallei onder die 'Landdros en Heemraad' van Stellenbosch geval. In 1691 het Franschhoek se kerkie afgestig en dus meer onafhanklik geword.
Die plaas Bossendaal was een van die eerste Franse wynplase.
BOSCHENDAL ONTSTAAN
Een van die Franse vlugtelinge, Jean le Long, is 'n plaas toegeken deur Simon van die Stel, die eerste goewerneur. Bossendaal het uit omtrent 60 Morgen grond bestaan (ongeveer 51 hektaar).
Die VOC (die Vereenigde Oostindische Compagnie) was verantwoordelik om die titelaktes van alle plase in die Kaap te onderteken, en het in 1713 Boschendal s'n geteken. Die VOC het Suid-Afrika as 'n halfwegstasie gebruik in hul handelsroete tussen Holland en die Ooste.
'n FAMILIEBESIGHEID
In die vroeg 1700s is die plaas deur die Hugenoot broers Pierre, Abraham en Jacques de Villiers gekoop (1715).
Abraham se broer, Jacques, het twee jaar later die aangrensende plaas ook gekoop, wat Boschendal altesaam 120 morgen gemaak het.
Jacques en sy familie (Jean en Paul de Villiers), is verantwoordelik vir meeste van die bestaande geboue op die plaas, insluitend die wynkelder, die koetshuis en die plaasopstal.
Die De Villiers familie het vir 164 jaar op die plaas geboer.
KRISIS EN UITKOMS
In die laat 1800s, twee eeue na Boschendal se vestiging, het 'n ernstige plaag die vallei getref en baie van die wingerde verwoes.
Cecil John Rhodes (wat tussen 1890 – en 1896 die eerste Minister van die Kaap was) het besluit om in te gryp. Hy en sy minister van landbou, John X Merriman (na wie Merrimanlaan in Stellenbosch vernoem is) het hulle toegewy om die landboubedryf weer te herbou.
Een van die De Villiers seuns, Jan Jacobus De Villiers, het die familieplaas Boschendal aan Cecil John Rhodes verkoop.
Rhodes se maatskappy Pioneer Fruit Growing Company het vanaf Nooitgedacht uitgebrei na heelwat ander plase in Groot Drakenstein, Wellington en Stellenbosch.
So het Boschendal deel geword van Rhodes se vrugtebedryf. Die grootste aandeelhouers was later De Beers en die Rand Selection Corporation Ltd.
In 1902 het Boschendal dus die eiendom van De Beers geword.
VANDAG
Cecil J Rhodes se kothuis, wat deur sy argitek Sir Herbert Baker ontwerp is, word nou gebruik om gaste aan Boschendal te huisves. Die res van die plaas is ook mooi gerestoureer (deur Gawie Fagen) en in 1976 vir die publiek oopgemaak.
Boschendal se herehuis (manor house) is nog die oorspronklike, en bevat blykbaar 'n waardevolle versameling Ming porselein.
Loer op die plaas se webtuiste vir spesiale aanbiedings en funksies.
Die plaas word vandag ook verteenwoordig in Stellenbosch se middedorp, by die Oude Bank gebou!
------------lééf Stellenbosch------------
Bronne:
http://www.boschendal.com/the-farm
http://www.openafrica.org/experiences/participant/470-boschendal-wine-farm Charles Quint
(http://michaelolivier.co.za/archives/28899) Posted April 30th, 2015 in Boschendal Farm
http://www.wine.co.za/page/page.aspx?PAGEID=1582&CLIENTID=1053