Wanneer die dol skool- en studenteroetine op Stellenbosch onderbreek word deur die stil atmosfeer van Paasnaweek, is dit asof die dorp, soos sy inwoners, vir 'n oomblik kan asemhaal. Dan, by verskillende kusdorpies, kampterreine, of by oupa se plaas in die binneland, word daar saamgekuier, geswem en geëet. Vir sommige word die vas op koffie uiteindelik gebreek, of word daar nagmaal gehou in die vorm van 'n glas wyn langs 'n braaivleisvuur.
Paasfees onderbreek ons gedagtes ook op 'n meer gewigtige manier. In die konteks van 'n naweek by die see is die verhaal van die kruisiging hartseer, swaar, ongemaklik - veral as jy hard en goed daaroor gaan nadink. Soms weet ons nie wat om daarmee te maak nie - dit bring 'n donkerte oor 'n andersins vrolike vakansie. Dit voel amper 'ongerieflik'.
Hierdie bittersoet gevoel van Paasfees het my hierdie jaar opnuut getref, want hartseer bly deel van ons lewe – ons dra ook ons eie kruise. 'n Vriend by wie ons gekuier het die naweek, iemand vir wie ons baie respek het, se sussie is presies 'n maand voor Paasfees in 'n motorongeluk dood, 'n jong vrou met 'n klein kindjie … In die konteks van hierdie onuitspreeklike seer het ons samesyn oor paasnaweek - die kuier om die vuur, die storiesvertel, lag en nonsens praat – soveel meer vir ons almal beteken. Omdat ons weet die lewe is broos en onverklaarbaar en vol seerkry.
Daarom, nog lank voordat daar 'n glinstering van hoop in 'n gebroke mens se hart begin groei – en dit vat soms jare – herinner paasfees ons daaraan dat God wéét hoe dit voel om iemand te verloor. Hy ken seerkry.
Mag die nuwe kwartaal vol hoop wees – en wanneer daar nie is, mag liefde en empatie jou dag vir dag omhels.