Die woord “fallow” in Engels beteken min of meer dieselfde as “braak”:
“dormant or inactive”, “cultivated land that is allowed to lie idle during the growing season”, “left untilled or unsown after ploughing”
Toe Stellenbosch destyds gestig is, was die Braak ‘n oop, ongebruikte stuk grond op die westerse periferie van die dorpie.
Binne die eerste 4 jaar was daar reeds 40 gesinne wat in Stellenbosch gebly het, en in ‘n kwessie van 100 jaar het die dorp rondom die braakland ontwikkel.
'n Landbougemeenskap
Daar was twee groot aantrekkings tot die klein Stellenbosch landbougemeenskap: inwoners hoef in die eerste jaar geen belasting te betaal nie, en hulle het volle besitreg gekry op hul plase. Die settlaars kon dus ‘n woonplek vir hul nageslagte verseker.
Hierdie ingesteldheid was interessant, want die Kaap was nie heeltemal ‘n ‘kolonie’ nie. Dit was meer van ‘n militêre en administratiewe buitepos. In party opsigte was dit ‘n verafgeleë plek. 'n Plek waar “nog geen pogings tot permanente nedersetting” gewaag is nie. Dit was te ver buite die beskerming van die skiereiland.
Die Braak word die dorpsplein
Soos die dorp ontwikkel het, het die Braak stadigaan die funksie van dorpsplein aangeneem, sowel as van oefen- en paradegronde vir die plaaslike burgerwag.
Later het die kruithuis ontwikkel, asook die diagonale Markstraat, waar plaaslike produkte gesmous is, en nog later 'n ry skakelhuise vir vrygestelde slawe in Hertestraat (iets wat getuig van die hartseer slawepraktyke wat destyds hier geskied het).
Vandag is die Braak geografies (en op ‘n manier kultureel) ‘sentraal’ aan Stellenbosch: Dit dra die voetspore van al Stellenbosch se inwoners, die Rynse sendelinge, slawe, Hollanders; karwagte, winkelassistente, trougangers, kerkgangers en PJ Olivier se skoolkinders.
Om meer te lees van die P.J. Olivier kunsskool (die ou Rhenish gebou), wat langs die braak geleë is, lees ons blog oor Stellenbosch se drie rooi skoolgeboue. Destyds was daar ook die Van der Stel-fees op die braak , 'n lekker terugblik op die Stellenbosch van ouds.
#lééf Stellenbosch
#annabassoneiendomme
‘nDromer is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die alledaagse dinge wat mens miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en spinnerakhuise en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy skryf sedert 2015 elke week iets oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.
Artikel en hooffoto: Y Coetsee 2016
Bronne: Stellenbosch Drie eeue (1979).
Harper dictionary