Law.News nuusbrief Junie 2014

by administrator | Local News

WONINGS, SAAMWOON, GESAMENTLIKE EIENAARS EN DISPUTE WAT KAN ONTSTAAN

“Communio est mater rixarum” (Gesamentlike eienaarskap is die moeder van alle twiste, soos reeds in vorige nuusbriewe aangedui.)

Wanneer jy met iemand in ‘n verhouding saamwoon, is dit belangrik dat julle vanuit die staanspoor ‘n formele saamwoonooreenkoms met mekaar sluit. Veral waar daar gesamentlike bates ter sprake is, of waar bates gesamentlik aangeskaf of verkry word.

Dinge trek skeef 
  • Twee mense het vir ‘n tydperk van sestien jaar saamgewoon. Hierna het die paartjie – noem hulle A en B – gesamentlik ‘n huis aangekoop.
  • Hulle sou met mekaar getrou het, maar het nooit daarby uitgekom nie.
  • Met die beëindiging van hul verhouding, het die partye ook ooreengekom om die gesamentlike eienaarskap van hul eiendom te beëindig.
  • Hulle kon egter nie eenstemmigheid bereik oor hoe om dit te bewerkstellig nie en ook nie oor hoe die opbrengs tussen hulle verdeel kon word nie. Vandaar dat die partye hulle na die hof gewend het.
Die gevare van verjaring  Die partye het geen skriftelike ooreenkoms tussen hulle gehad oor hul onderskeie bydraes met die aankoop van die huis en die daaropvolgende kostes met die instandhouding van die huis nie.  Die hof moes dus sy wye diskresie op billikheidsoorwegings uitoefen ten einde ‘n verdeling van die gemeenskaplike eiendom te bewerkstellig. A het beweer dat die meeste van B se eise verjaar het, omdat dit nie binne drie jaar van die ontstaan daarvan, afgedwing is nie. B het op sy beurt aangevoer dat die gesamentlike eienaarskap ‘n vennootskap daarstel. Dit sou inhou dat verjaring nie ter sprake was nie en dat sy eis steeds regtens afdwingbaar sou wees. Om ‘n finansiële vennootskap voortspruitend uit ‘n saamwoonverhouding te bewys, is nie maklik nie. Ook hier kon B die hof nie oortuig dat ‘n vennootskap tot stand gekom het nie. Die gevaar is natuurlik dat paartjies wat saamwoon, eers oor hul onderskeie eise  begin dink wanneer dinge skeef loop. Dit is dan te laat. Wie trek dan aan die kortste ent?  Die hof bevind dat B se eise grootliks reeds verjaar het. Sy eis van bykans R815 000 vir bydraes tot die aanvanklike deposito, die verbandpaaiemente, die kostes van verbeteringe en sy deurlopende betaling van eiendomsbelasting is daarmee heen en onafdwingbaar. Afgesien van die onsekerheid, die emosionele kostes en die uiters onsmaaklike einde tot hul verhouding, sou beide partye ook aansienlike regskostes in die proses aangegaan het. Dit kon maklik vermy gewees het, indien die partye vanuit die staanspoor ‘n behoorlike en billike ooreenkoms met mekaar gesluit het om hul saamwoonverhouding te reguleer.

GEWAPENDE ROOF - JOU SEKURITEITSMAATSKAPPY SE AANSPREEKLIKHEID. DIE LAASTE HOOFSTUK

“South Africa is plagued by crime – often viciously violent, sometimes sophisticated and organised, often ridiculously random, but always audacious and contemptuous of the values we are supposed to believe in and the human rights enshrined in our Constitution …..” (Uittreksel van die uitspraak van die Grondwetlike Hof hieronder.)

Van die mees gewelddadige misdadigers verkry toegang tot hul slagoffers deur hulself voor te doen as polisiebeamptes op amptelike besoek. Ons het voorheen al berig oor die gesin wat in 2009 in hul huis oorval is deur misdadigers wat toegang tot hul huis verkry het deur hul as polisiebeamptes voor te doen.

Hierna moes die gesin deur verskeie hofsake teen hul sekuriteitsmaatskappy worstel. Die Grondwetlike Hof het nou finaal bevind dat die sekuriteitsmaatskappy wel aanspreeklik gehou moet word vir die nagmerrie ondervinding wat hulle as ‘n gesin deurgemaak het.

Die wag wat die hek oopgemaak het

  • ‘n Kort opsomming van die gebeure: ‘n Gesin met drie jong kinders (onderskeidelik 2, 5  en 8 jaar oud) was voorheen al die slagoffers van ‘n gewapende roof by hul huis. As gevolg hiervan was die gesin se nuwe huis uitermatig goed beveilig. Die sekuriteitstelsels sluit in ‘n geëlektrifiseerde heining, infrarooi straalverklikkers rondom die buitemure,  veelvuldige alarmstelsels, ‘n waghuis met koeëlvaste glas, ‘n interkomstelsel met geslote baan televisie monitering en ‘n voetgangershek met beheerde toegang en ‘n loergat.
  • ‘n Sekuriteitsdiens wat daagliks vir die volle 24 uur ‘n gewapende sekuriteitswag aan diens sou hê, was veronderstel om hul sterkste teenvoeter vir misdaad te wees. In praktyk, het die teenoorgestelde egter gebeur en was dit uiteindelik die swak skakel.
  • Op die ongelukkige aand het gewapende rowers met die oprit opgery en hul as polisielede voorgedoen. Die wag aan diens het die voetgangershekkie vir hulle oopgemaak. Die gesin en hul personeel is aangerand en aangehou en goedere ter waarde van R11 miljoen is gesteel.
  • Die gesin het die sekuriteitsmaatskappy vir skadevergoeding gedagvaar.  Die eis is aanvanklik in die Hooggeregshof toegestaan, maar dit is in die Appèlhof van die hand gewys.

Die finale Hoofstuk

Die gesin het egter nie moed opgegee nie en hulle het deurgedruk tot in die Grondwetlike Hof. Die Grondwetlike Hof het onlangs hierin uitspraak gelewer en het bevind dat die sekuriteitsmaatskappy op grond van kontrakbreuk vir die skade aanspreeklik gehou kan word. Die sekuriteitsmaatskappy is ook middellik aanspreeklik vir die nalatige optrede van sy werknemer, die sekuriteitswag. Die hof het beveel dat die sekuriteitsmaatskappy regtens aanspreeklik is om skadevergoeding aan die gesin te betaal.

Huiseienaars: Wat is die swakste skakel in jou sekuriteitstelsel? Dit is nou die tyd om jou ooreenkoms met jou sekuriteitsfirma deur te gaan. Indien jy onseker of ontevrede is met die voorwaardes, moet jy regsadvies neem om seker te maak jy het wel die nodige beskerming in plek.

Indien jy of iemand in jou gesin genader word deur enigiemand wat beweer dat hy of sy ‘n polisiebeampte is, moet jy eerstens vra vir amptelike identifisering as ‘n geregsdienaar. Die aanstellingsertifikaat van ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is ‘n wit kaart met die foto van die beampte daarop, onder die woorde “SA POLICE SERVICE”, die SAPD logo aan die regterkant, die naam van die beampte aan die onderkant; aan die agterkant van die kaart die woorde “APPOINTMENT CERTIFICATE”, “Sect 30 Act 68/1996”, met die beampte se diensnommer, naam, identiteitsnommer, uitreikingsdatum en die handtekening van die gemagtigde offisier wat die aanstelling gemagtig het. As hierdie kaart nie aan jou getoon kan word nie, moet jy dadelik hulp inroep.

Verskaffers van Sekuriteitsdienste: Die hof maak die volgende rigtinggewende opmerkings (vry vertaal): “Die gemeenskap verwag dat sekuriteitswagte nie aan misdadigers toegang sal gee tot persele onder hul wag nie. Dit is onregmatige optrede.” “Sekuriteitswagte word opgelei om gewapende beskerming te bied. Hulle moet daarop ingestel wees om enige onderduimse pogings van misdadigers om toegang tot persele te verkry, te kan identifiseer en te verhoed. Dit is die kernelement van hul aanstelling. Deur onverhinderde toegang tot die perseel aan ‘n gewapende rower te verleen, sonder om eers te probeer om vas te stel wie hy is en wat die doel van sy besoek is, het die sekuriteitswag reeds onredelik opgetree en sy pligte versuim.”

VERSNELLINGSKLOUSULES: LENERS (EN UITLENERS) NEEM KENNIS!

 
Wat is ‘n versnellingsklousule in ‘n leningsooreenkoms? Dit kom voor waar ‘n lening in paaiemente terugbetaalbaar is. Die versnellingsklousule bepaal dat sodra die lener een van sy paaiemente nie betaal nie, die volle uitstaande leningsbedrag onmiddellik betaalbaar en opeisbaar sal wees. Dit maak sin dat die uitlener so ‘n klousule in die ooreenkoms het. Sonder dit kan hy slegs sporadies vir die uitstaande paaiemente dagvaar, nie vir die volle uitstaande leningsbedrag nie.

Die gevaar vir die lener

Indien jy versuim om een betaling te maak, loop jy die risiko dat die uitlener die volle lening kan oproep en jou kan dagvaar om die volle uitstaande bedrag van jou te verhaal.

Uitlener: Daar is beperkinge

Die uitlener het darem nie ‘n onbeperkte reg om die volle bedrag op te roep nie, aldus ‘n onlangse uitspraak van die Hooggeregshof. Hier het die uitlener hom beroep op die versnellingsklousule en die volle lening van meer as R7,6 miljoen opgeroep. Die lener was laat met die betaling van ‘n paaiement van R42,133-15. Na ontvangs van ‘n e-pos om die versuim uit te wys het die lener dadelik die betaling aangesuiwer en die paaiement van R42,133-15 betaal. Verdere rente van R86,57 is gehef en nie betaal nie. As gevolg van die lener se versuim om die bykomende rente van R86,57 te betaal, is die volle bedrag van R7,6 miljoen deur die uitlener opgeroep.

Die hof het om twee redes geweier om die versnellingsklousule af te dwing: –

  1. Die hof bevind dat die e-pos skrywe van die uitlener aan die lener nie ‘n behoorlike “geregtelike aanmaning” was nie. Dit het nie aangedui wat die volle bedrag was wat die lener moes betaal nie, dit het geen melding gemaak van die bykomende rentebedrag nie en dit was ook nie ‘n ondubbelsinnige aanmaning en oproep tot betaling nie.
  2. Volgens die hof sou dit “oorweldigend drakonies en onregverdig wees” en gevolglik teen die openbare belang wees om die versnellingsklousule in hierdie omstandighede toe te laat. Die hof bevind dit onaanvaarbaar dat die volle uitstaande paaiement wel betaal is en dat die uitlener dan sonder enige verdere kommunikasie of formele aanmaning vir die bykomende rente van ‘n skamele R86,57, onmiddellik die volle kapitaalbedrag van R7,6 miljoen wou oproep.

Teen die openbare belang

As algemene reël sal partye in die daaglikse handelsverkeer aan hul ooreenkomste gebonde gehou word. Tog sal enige ooreenkoms wat teen die openbare belang bevind word, nietig en onafdwingbaar wees.

Die enigste probleem is dat die vasstelling van wat die openbare belang behels, ‘n bewegende teiken kan wees en nie wetenskaplik bepaal kan word nie. Hier sê die hof dat dit nie gaan oor die regverdigheid of gepastheid van die ooreenkoms tussen die partye self nie, maar eerder of die waardes van die Grondwet deur die bepalings van die ooreenkoms verbreek word.

Dit maak dit natuurlik moeilik om vooraf te bepaal hoe die bepalings deur die hof interpreteer sal word. Uitleners moet aanvaar dat die letterlike vertolking en kragdadige afdwinging van ‘n versnellingsklousule onder sekere omstandighede deur ‘n hof as onafdwingbaar verklaar kan word.

Wees ook bedag op die bestaan van ons Grondwetlike waardes wat tussen kontrakspartye nagekom moet word. Dit is belangrik by die opstel van die ooreenkoms en ook by die latere afdwinging van die bepalings van die ooreenkoms. Jy moet dus kan bewys dat jy aan die lener ‘n volledige,  skriftelike uiteensetting gegee het van die volle bedrag wat deur hom verskuldig is; dat jy hom regtens aangemaan het om die aangeduide bedrag teen die aangeduide datum ten volle te betaal; en dat jy die lener volledig in kennis gestel het oor die gevolge en volgende stappe, indien hy in versuim sou bly om die volle bedrag te vereffen. Met al hierdie gevaarligte wat flikker, is dit net sinvol om regsadvies in te win oor die afdwingbaarheid van jou leningsooreenkoms in sy huidige formaat.

‘N BANKAGENT STEEL JOU GELD – IS DIE BANK AANSPREEKLIK?

Wanneer jy by ‘n bank instap om ‘n beleggingsrekening oop te maak, aanvaar jy outomaties dat die bank jou belegging gaan beskerm. Indien die agent misdadig optree en jou belegging verduister, gaan jy die bank tog aanspreeklik hou vir jou verlies.

Dit dien as die algemene reël. ‘n Verbruiker kan aanvaar dat die takbestuurder of agent van ‘n bank by magte sal wees om die alledaagse transaksies en beleggings van ‘n takbestuurder of agent te kan doen. ‘n Verbruiker kan ook aanvaar dat hy of sy by magte sal wees om die bank dienooreenkomstig te bind. ‘n Bank sal gewoonlik gebonde wees aan die optrede en oënskynlike magtiging van sy agent, selfs waar die agent in die geheim bedrieglik en tot sy eie voordeel optree.

As jy as die verbruiker egter vanuit die staanspoor weet (of redelikerwys moes weet) dat die bestuurder of agent die perke van sy magtiging of die gebruiklike dienste van die bank oorskry het, sit jy egter met ‘n probleem.

Belastingontduiking, sameswering en die misdadige agent ‘n Buitengewone geval het onlangs die aandag van die Hoogste Hof van Appèl geniet:  -
  • Twee sakemanne het saam fondse van R7,5 miljoen by ‘n gemagtigde bankagent belê.
  • Hulle het beleggingsooreenkomste met die bank gesluit en hulle het dokumente ontvang wat op die oog af soos die bank se ontvangsbewyse vir hul deposito’s gelyk het.
  • Die agent was egter misdadig en het hierdie R7,5 miljoen (en verdere bedrae van ander bankkliënte) gesteel.
  • Die twee beleggers het die bank vir hul verlies gedagvaar. Tydens die hofsaak het dit egter geblyk dat die beleggers se belegging met hul volle samewerking in die naam van fiktiewe entiteite geplaas is as deel van ‘n georganiseerde skema van belastingontduiking. Die depositostrokies het geblyk vervalsings te wees en die beleggings is nooit in die bank se stelsels opgeneem nie.
  • Die beleggers het hier vanuit die staanspoor met die bankagent saamgespan om die aard van die belegging op onwettige en bedrieglike wyse te verdoesel om belasting te ontduik. Die beleggers kon die hof dus nie oortuig dat hul redelikerwys onder die indruk kon verkeer dat die agent ten volle gemagtig was om die bank te bind nie en dat die agent binne die perke van sy mandaat opgetree het nie.  Die Hof bevind dan op grond hiervan dat die bank nie vir die agent se diefstal aanspreeklik gehou kan word nie.

POPI SE REIS: STADIG MAAR SEKER

Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, Wet 4 van 2013 staan ook in die algemeen bekend as POPI (the Protection of Personal Information Act). Hierdie wet het nou gedeeltelik in werking getree. Die Inligtingsreguleerder moet nou aangestel word en die regulasies moet ook nog uitgevaardig word. Daar is dus vordering, maar dit sal nog ‘n geruime tyd duur voordat die hoofbepalings van die wet amptelik in werking gaan tree. Wanneer dit wel afgekondig gaan word, gaan jy ten minste nog ‘n jaar kry om aan die bepalings van die wet te voldoen. Daar is dus vordering en die datums kom al nader. Begin dus solank om gereed te maak vir die inwerkingtreding van die wet. Bepaal watter persoonlike inligting jy op rekord hou, wat is die rede waarom jy hierdie persoonlike inligting van mense hou, watter magtiging het jy om dit te hou en hoe word die inligting beveilig. Ons sal ook in toekomstige nuusbriewe verdere praktiese riglyne hieroor gee.

JUNIE SE WEBWERF: ENTREPRENEURS – PRYSE VAN R1.7 MILJOEN VIR KMMO's

Klein, Medium en Mikro-Ondernemings kan deelneem aan Eskom se kompetisie onder die vaandel van hul “Development Foundation Business Investment Competition”. Ondernemings kan meeding om ‘n deel van die prysgeld van R1,7 Miljoen  indien hulle aan die volgende kwalifiserende vereistes voldoen: –

  • In Swart besit,
  • In Suid Afrikaanse besit,
  • Formeel en wettig geregistreer,
  • Handeldrywend in die landbou-, vervaardiging- of handel- / dienste-sektore van die ekonomie,
  • Handeldrywend vir ‘n periode van ten minste 24 maande voor die aanvang van die kompetisie.

As jou onderneming aan die kwalifiserende vereistes voldoen, moet julle gerus inskryf.

Inskrywings moet voor of op die sluitingsdatum van 18 Julie 2014 ingedien word. Besoek gerus Eskom se kompetisieblad op die “Business Investment Competition” blad tehttp://www.eskom.co.za/OurCompany/CSI/Pages/BIC.aspx vir die volledige voorwaardes, riglyne, besonderhede oor die pryse en die formele reëls van die kompetisie.