Na wie is Du Toit stasie vernoem?

by 'nDromer | Local News

Een van ons lesers het gewonder na wie Du Toit treinstasie venoem is.

 

'n Paar bekende Du Toits

Ek het bietjie gaan snuffel in die ou boeke. Daar's ‘n paar bekende Du Toit’s in Stellenbosch se geskiedenis:

  • Dr D.F. du Toit, burgermeester en een van die eerste professore by Victoria Kollege;
  • Donald du Toit, ‘n mede-stigter van die Van der Stel-rugbyklub in 1919

My vermoede is dat die naam uit die vroeë Stellenbosch geskiedenis kom, uit die tyd van Adam Tas.

 

Adam Tas se vriend en buurman

Ek raai dat die stasie vernoem is na die Franse hugenoot Guillaume Du Toit, wat saammet sy broer Francois na Suid-Afrika gekom het rondom 1687.

Alhoewel meeste van die Franse Hugenote hulself in die Drakenstein omgewing gevestig het, het Guillaume en sy vrou Sara in Stellenbosch gebly met hul drie dogters. Hul plaas het waarskynlik die grond ingesluit waarop die stasie vandag staan.

Guillaume se plaas het Aan’t Pad geheet (of Aan-het-pad), waarskynlik omdat dit langs een van die groot 'wagenweë' uit die dorp gebou was.

Du Toit was ‘n buurman en goeie vriend van Adam Tas, en die twee gesinne het dikwels oor-en-weer gekuier.

Beide was deel van die vryburgers wat in die moeilikheid gekom het oor die klagskrif teen die goewerneur Willem Adriaan van der Stel.

 

Aan't pad word "Cloetesdal"

Nadat Du Toit vir byna 40 jaar op Aan’t pad geboer het, is die plaas deur Jacob Cloete gekoop en het die plaas ‘n nuwe naam gekry - Cloetesdal. Die plaas is op Nicolas Vlok se naam oorgedra en later deur Martin Melck besit.

Namate die dorpie uitgebrei het, is baie van die plase in die middedorp in erwe opverdeel en verkoop.

Volgens Drie eeue is die klipperige grond in die Noordelike rigting van die dorp (op die gelykte tussen bird straat en andringastreet) rondom 1859 begin verkoop.

 

Spoorweë kom na Stellenbosch

Toe die dorp se eerste treinstasie in hierdie omgewing opgerig is het ‘n klein woongebied, Du Toitsville, ontstaan.

Die spoorweë het in 1962 na Stellenbosch gekom en die stasie is opgerig waar Du Toit stasie nou is (agter Mercedes Benz in Birdstraat).

Die hoofstasie het eers later na die dorp geskuif (vandag Stellenbosch stasie).

Cloetesville het die naam van die ou plaas "Cloetesdal" aangeneem. Die ou plaasopstal word vandag nog gebruik as ‘n kliniek met die naam Aan-het-pad kliniek (sien foto).

 

img_3645

Elkgeval, hierdie is net my teorie oor waar die naam vandaan kom. As iemand dalk meer lig op die onderwerp kan skyn stuur asb vir ons ‘n boodskap!!

 

As jy meer wil lees oor die Du Toit stamboom, click hier: du-toit.co.za.


#leefStellenbosch 


"‘n Dromer" is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die alledaagse dinge wat mens miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en spinnerakhuise en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy skryf sedert 2015 elke week iets oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.

 

Artikel en Fotos: Y Coetsee 2016
Bronne: Stellenbosch Drie Eeue,
http://du-toit.co.za/guillaume_du_toit.htm?
https://digital.lib.sun.ac.za/handle/10019.2/1814
http://archiver.rootsweb.ancestry.com/th/read/SOUTH-AFRICA/2011-03/1300428661