Daar is iéts omtrent berge en hulle (bykans stereotiepe) standvastigheid wat rustigheid uitstraal. Woorde soos “majestueus” word dikwels gebruik om hulle grootsheid te besing, en, afhangende van die berg of bergreeks, “indrukwekkend”, “asemrowend”, “imposant”. Hierdie woorde, hoewel hulle soms clichéagtig kan voorkom, is meestal in die kol, want die meeste berge is al hierdie dinge, en meer, ongeag of hulle enkele piek is, of verstrekkende reeks. Of, soos Wilma Stockenström in haar gedig “Wat ek met berge gemeen het” dit stel: “plattes met handlangers of hooggebore / enkelinge”.
Berge se onwankelbaarheid en eeue-oue konstante teenwoordigheid bring gerustheid en vertroosting. Hulle oorbluffende pieke lok avontuurlustiges. Hulle kruine en kontraste inspireer kunstenaars. Hulle fauna en flora roep natuurliefhebbers. Hulle geheimenisse bekoor digters en verstom ons doodgewones. En al is dit die onbereikbaarheid van die kruin of ten minste die vermoeiende tog tot bo wat betekenis gee aan uitdrukkings soos “berg skottelgoed”, “berg papierwerk”, “berg op my skouers”, is dit steeds weens hulle standvastigheid, grootsheid en skoonheid dat die berge soveel simboliek dra.
Die Switserse Alpe
Die Switserse Alpe
Die Twaalf Apostels
Hantamberg
Tafelberg