Pas of kloof?
In die Hollandse tydperk was die woord 'pas' nooit gebruik om te verwys na 'n roete oor 'n berg nie, maar die woord 'kloof'. Daar was die Olifantskloof (vandag die Franschhoekpas) en die Piekenierskloof, wat vandag die Piekenierskloofpas genoem word.
Sir Lowry's pas, wat die afgelope week gebrand het, was aanvanklik die ou Hottentots-Hollandkloof, 'n eeue-oue oorgang wat uitgetrap is deur die plaaslike mense en hul vee, nog voor die Hollandse setlaars hier was.
Hulle het dit die Gantouw pad genoem ('Elandpad' in die plaaslike taal).
Die settlaars brei uit
Kort nadat die klein landboukolonie, Stellenbosch, gevestig is, het boere begin uitbrei na areas soos die "Zwartland" en "Over de bergh". Die warmwaterbron (by Caledon) is ontdek, en die dorpie Swellendam het later ontwikkel. Swellendam was die eerste dorp wat gestig is naas Stellenbosch, wat dit die 3de Europese nedersetting maak in die Kaap.
Vir die grootste deel van die 1700's en 1800's was die pas oor die Hottentots-Hollandberge redelik rof en gevaarlik, en het baie van die waens groot skade gelei. Dit was egter die enigste manier vir die boere van die Overberg om hul produkte na Kaapstad te vervoer. Die besigste tye was Februarie en Maart, want dan het die boere hul graanoeste na die Kaapse Mark geneem.
Opgraderings en 'n 'kloofmaker'
In 1728 kry die pas 'n opsiener en in 1747 word ingenieurs (destyds die baaspademakers) opdrag gegee om die Kloof in 'n meer bruikbare toestand te kry.
In hierdie tyd het hulle reeds buskruit (gunpowder) gebruik om klippe los te skiet.
Nietemin was dit 'n stryd om die kloof 'bequaam' te maak, en het die klagtes oor die pad se veiligheid nie opgehou nie.
Tolgeld in die 1800s
'n Sekere Mnr Kettenaar bied later aan om die pas voltyds in stand te hou in ruil vir 'n stukkie grond om sy huis op te bou. Die idee van 'n betaalde 'kloofmaker' word 'n instelling wat vir jare daarna nog sou voortduur.
Op die eeuwending van 1800 besluit die owerhede (op daardie stadium Britse owerhede) om tolgeld te vra vir die pas:
Alle rytuie met 2 of 4 wiele - 4 skellings (Ek wonder watter soort 2-wiel rytuie die ou Hollanders gery het. Seker nie motorfietse nie.) 'n gelaaide wa - 4 skellings 'n leë wa - 2 skellings 'n kar leeg of gelaai - 2 skellings 'n ryperd - 1 skellings vee: elke 20 osse of koeie - 3 skellings vee: elke 100 skape - 3 skellings
Op daardie stadium was 'n skelling ongeveer 6 pence - click hier vir die tabel.
Met die nuwe tolgeld was die 'kloofmaker' nou ook die 'tolhouer' genoem - en moes hy elke Maandag die tolgeld en lys van name by die Stellenbosch Drostdy gaan indien. Daar word gereken dat die pas teen 1821 reeds 4500 ossewaens per jaar oor die berg gedra het.
Sir Lowry Cole skep 'n nuwe pas
Kort na 1811 het die distrikgrense verander en het die instandhouding van die kloof na die Swellendamse Drostdy geskuif.
Sowat 15 jaar later het die nuwe goewerneur, Sir Lowry Cole, opdrag gegee om 'n splinternuwe pad oor die berg te bou. Hierdie pad, wat effe suid van die oorspronlike ossewapad was, is in 1830 geopen, en dra vandag die goewerneur se naam, Sir Lowry's pas.
Stap op die ou pas se spore
Vandag kan jy 'n relatiewe maklike 3.6km stap onderneem na die oorspronlike ossewaroete en terug (dit begin naby die Steenbrasdam se hek).
Daar is blykbaar nog van die ou ossewaspore op die ou Gantouwspas te sien, iets wat as nasionale gedenkwaardigheid benoem is in die 1950's.
Help ons om ons erfenis te beskerm deur die Volunteer Wildfire Services te kontak as jy enige veldbrande sien uitbreek.
Cape Winelands Fire: 021 888 5275 021 888 5100Cape Town City Fire: 021 480 7700 107Overberg Disaster Management: 028 425 1690