Stellenbosch in die 17de, 18de en 19de eeu

by 'nDromer | Local News

Ons leef in 'n tyd van groot verandering, waar internasionale gebeure daagliks op ons newsfeed of inbox verskyn.

Maar hoe het die wêreld gelyk in die 4 eeue rondom Stellenbosch se onstaan?

1600's

 

IN EUROPA

Die 1600's staan bekend as the Dutch Golden Age, toe Holland se kultuur, wetenskap, ekonomie en militêr nog van die sterkste in die wêreld was. Dis 'n tyd van heelwat wetenskaplike ontdekking in Europa. Teen die einde van die eeu bestaan kennis van logaritmes, elektrisiteit, die teleskoop en mikroskoop, calculus, universele gravitasie, Newton se wette, lugdruk en meganiese toestelle wat eenvoudige berekeninge kan doen.

 

IN DIE KAAP:

Die Verenigde Oost-indische Compagnie word gestuur om 'n halfwegstasie te stig aan die Suidpunt van Afrika. Die Hollanders bou 'n fort en begin stelselmatig landbou doen. Hul stel heelwat nuwe plante voor, soos druiwe, grane, grondboontjies, aartappels, appels en sitrus (asook Eikebome).

 

IN STELLENBOSCH:

Die klein landbounedersetting Stellenbosch word gestig in 1679. Heelwat hollandse gesinne vestig hulself hier. Burgers hoef in die eerste jaar geen belasting te betaal nie en kan hul eie grond besit (daarom word hul vryburgers genoem).

 

TRIVIA: In 1617 word die eerste eenrigtingstraat in London geopen.

 

1700's

 

IN EUROPA:

Die 1700's is 'n tyd van groot optimisme en rusteloosheid in Europa wat uiteindelik die Franse Revolusie veroorsaak. Wetenskap en filosofie word al meer belangrik (die 'verligting' of Enlightenment) en teen die 1770's word die Industriële Revolusie deur die ontwerp van die stoom enjin ingelei. Amerika word gekoloniseer en Brittanje word sterker as politieke mag.

 

IN DIE KAAP:

Die VOC verklaar dat nuwe settlaars in die Kaap nie meer eiendom mag besig as vryburgers nie, maar plase moet huur vanaf die Kompanjie as leningsplaatsen. Die sisteme van eiendomsbesit in die Kaap verander hiermee drasties

 

IN STELLENBOSCH:

In 1717 word die nuwe kerk uiteindelik gebou - die vorige een het in 1710 afgebrand. Die nuwe bouterrein is geleë waar Moederkerk vandag is. Die meuldam het ook oorspoel tydens die wintervloede, wat beteken dat al die inwoners moet kom help met ‘n pik, graaf, byl of mandjie.

 

TRIVIA: Op Kersfees 1717 tref daar ‘n reusevloed die kus van Nederland, Duitsland en Skandinawië, en ongeveer 14 000 mense sterf. Die tragedie word bekend as die Christmas flood.

 

 


1800's

 

IN EUROPA:

Die Franse ryk kom tot 'n val en Brittanje word die nuwe wêreldmag wat teen die einde van die 1800's 'n 5de van die wêreld se grond en 'n kwart van die wêreldpopulasie besit. Brittanje bring grootskaalse globalisering, industrialisasie en ekonomiese veranderinge teweeg wêreldwyd. Die 1800s staan ook bekend as die Victoriaanse era, gekenmerk aan die gebruik van kinders in myne en fabrieke, sowel as streng sosiale norme in terme van manlike en vroulike rolle. In die 1800s begin sommige lande die afskaffing van slawerny toepas.

 

IN DIE KAAP:

Die Kaap wissel 'n paar keer tussen Britse en Hollandse besit. In 1806 val Britse skepe die Kaap binne (die Slag van Blaauwberg) waaroor Louis Thibault skryf in sy briewe en dagboeke. Die Kaap word die hoofstad van die nuwe Britse Cape Colony, wat met verloop van die eeu verder Noort uitbrei. Tydens die 1800s kry die Kaap sy eie parlement (1854) sowel as sy eie Eersteminister (1872). 

 

IN STELLENBOSCH:

1817 Die jong landmeter, W.F. Hertzog, word na Stellenbosch gestuur en teken die beroemde ‘Hertzog kaart’ in 1817. Dit is die eerste dorpsplan en gee waardevolle inligting oor die nedersetting se ontwikkeling. Dit was byvoorbeeld gewild om enkelverdiepinggeboue in dubbelverdiepings te omskep. Die jaar daarna besluit die owerhede om die straatname (wat tot op daardie stadium nie regtig ‘n rol gespeel het nie) aan die publiek bekend te maak.

  TRIVIA: Die Duitse uitvinder Karl von Drais ontwerp ‘n koddige twee-wiel voertuig wat bekend staan as die ‘dandy horse’, Draisienne of ‘Laufmaschine’. Daarmee begin die ontwikkeling van die fiets.  

1900's

 

IN EUROPA:

Groot gebeure op internasionale vlak bring baie verandering mee, insluitend die 1ste en 2de Wêreldoorlog, die ontwikkeling van kernkrag, ruimteverkenning, nasionalisme, dekolonialisasie, kommunikasietegnologie, en later die digitale revwolusie. Baie van die koloniale lande in Afrika word onafhanklik verklaar.

 

IN DIE KAAP:

Die kaap is steeds onder Britse bewind maar opposisie vanaf Boere burgers lei tot die Anglo-Boereoorlog in 1899–1902. Brittanje oorwin die Boere en vestig die Unie van Suid-Afrika in 1910, wat die Kaapkolonie saamsmelt met die Transvaal, Oranje Vrystaat en Natal. Kaapstad word die wetgewende hoofstad van die nuwe Unie. In 1931 word Suid-Afrika heeltemal onafhanklik van Brittanje verklaar.

 

IN STELLENBOSCH:

1917 Na jare van wisselvallige wynpryse en die monopolie van uitvoerhandelaars, ontstaan daar uiteindelik ‘n suksesvolle Wynbou-Unie om plaaslike wynboere te beskerm – iets wat reeds sedert 1825 probeer is. Die meerderheid van Stellenbosch se wynboere sluit aan teen 1917. Die jaar daarna word die KWV (Kooperatieve Wijnbouwers Vereniging) amptelik as ‘n maatskappy registreer.

 

TRIVIA: In 1917 begin J.R.R. Tolkien met the Book of Lost Tales, sy vroegste stories oor Middle Earth. Tolkien was vir 5 jaar in die weermag, maar sy gesondheid het verswak in die loopgrawe en hy moes in die platteland gaan herstel. Dit was hier waar hy die Lost Tales begin skryf het. Hy en sy vrou Edith se eerste kind is in 1917 gebore.

 


 

 

#leefstellenbosch

#annabassoneiendomme

 

‘nDromer is ‘n jong Stellenbosser wat graag skryf oor die alledaagse dinge wat mens miskyk. Sy hou van stowwerige boeke en spinnerakhuise en om te sien hoe die verlede nie altyd is wat jy dink of verwag nie. Sy skryf sedert 2015 elke week iets oor Stellenbosch, sy erfenis en sy mense.

 


 

Artikel en foto: Y Coetsee
Bronne: Stellenbosch Drie Eeue,
www.sahistory.org.za
www.wikipedia.org: 17th century, 18th century, 19th century, 20th century, Cape of Good Hope, South Africa
Kaart: - Cambridge University Library, Public Domain, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=36387