In die vorige blogs verduidelik ek hoedat natuur en kultuur ineengeweef word in die unieke plantname wat ons kry in Afrikaans. Stellenbosch was in beide kultuur en natuurgeskiedenis onmisbaar omdat dit een van die ontstaanplekke van Afrikaans is en daarmeesaam toegang bied tot die fynbosskatte van die Jonkershoekvallei. Daar is heelwat beroemde botaniste en wetenskaplikes wat iewers deur Stellenbosch beïnvloed is, soos die proteaspesialis Marie Vogts (1908 – 1998), wat haar BSc en later PhD by Stellenbosch Universiteit voltooi het en op koningproteas gewerk het (lees oor haar by www.sahistory.org)
Moederkappies en Oupa se pyp is twee wonderlike name vir orgidieëspesies (dispersis capensis en herschelia spatulata). Beide se name is self-verduidelikend (sien fotos!)
SANBI (die South African National Biodiversity Institute) verduidelik dat fynbos so uniek is omdat dit die enigste floral kingdom is wat slegs in een land geleë is:
“What makes it unique is that this floral kingdom is found exclusively within a single country. This means that it is entirely up to the people of South Africa to protect this global treasure.”
Fynbos het nog altyd ‘n internasionale aanhang gehad. Proteas word wereldwyd uitgevoer, en die fynbosspan van Kirstenbos (met 'n Harold Porter botaniese tuin tema) het weereens goud behaal by hierdie jaar se Chelsea blommeskou in London, UK (lees hier).
Ek het in die vorige twee blogs ‘n paar van Stellenbosch se fynbosplante beskryf (soos knoppiesbos, kalkoentjies, velskoenblaar en wasbessiebos), maar ek moet eenvoudig nog ‘n paar voorbeelde noem. Kyk na hierdie wonderlike beskrywende name:
- Die Geelkatstert is ‘n familielid van die aalwyn en ander vetplante en het ‘n geel tros blomme op ‘n lang steel (Bulbine asphodeloides).
- Naby familie is die Seeroogkatstert (bulbinella floribunda) wat ‘n kwas roomkleurige geel blomme het en 'n gewilde en geharde tuinplant is.
- Die Katjiedrieblaar is dieselfde plant as die brandblaar en word ook die Tandpynblaar en Peperwortel genoem. Sy leer-agtige blare word aangewend vir tandpyn, rugpyn en rheumetiek. (knowltonia vesicatoria)
- Die Spinnekopblom of Rooikanol (Wachendorfia paniculata) se naam kom van die rooi kleur van die wortels en risoomstelsel (materiaal kan gekleur word met die rooi-bruin kleurstof). Die plant het geel blomme met ‘n donker vlek in die middel en klein oranje kolletjies om insekte mee te lok.
- Die Toffieappel is ‘n soort protea wat lyk soos ‘n taai-rooi toffieappel wanneer dit blom (leucadendron tinctum).
- Lidjiestee het fyn wit blomme aan ‘n bruinerige tros en word in Engels die Cape mistletoe genoem.
- Knikkertjies of Froetang is die volksname vir uiegras met pers blommetjies. Die vrugte daarvan word ‘knikkertjies’ genoem, en volgens die boek Drie Eeue is dit graag deur kinders of bobbejane gekou. Die bolplant word ook Guildford grass en Onion grass genoem. Romulea rosea of Romulea flava
- Kapokbossie (in Engels “snow bush” het wit wollerige vruggies en ruik soos roosmaryn. Dit word daarom ook wilde roosmaryn genoem. Eriocephalus africanus
- Taaibos en Steekbos is onder Suid-Afrikaanse bergklimmers bekend as ‘climber’s friend’, en het klein skerp-puntige blare wat lelik steek wanneer mens bergklim.
- Die Sokkiesblom kan maklik misgekyk word vir gras wanneer dit nie blom nie. In sy blomtyd het hy delikate blou of wit blommetjies met geel en pers strepies op hul filament steeltjies. Dit word ook die Bloutjienks of Blue Grasslily genoem.
Lees ons vorige blogs as jy nog plantename wil sien!
------------leef Stellenbosch--------------