Hans Endler en F.W. Jannasch was twee van die groot name in Stellenbosch se musiekgeskiedenis. Die Endlersaal is waar meeste groot klassieke musiekkonserte in Stellenbosch aangebied word. Endler is ook die naam van ‘n straat wat naby Stellenbosch hoërskool en laerskool verbyloop.
Fismer en Jannasch is twee kleiner musieklokale waar daar soms middaguurkonserte aangebied word en waar die Universiteitskoor gewoonlik oefen.
Die era waarin Endler en Jannasch geleef het (die tweede helfte van die 1800s) was ook die era van figure soos Hofmeyer, Murray en Neethling (die stigters van die Teologiese kweekskool), en die stigting van Rhenish (1860), Paul Roos gimnasium (1866), en Bloemhof (1874).
Jannasch - die grondlegger
Jannasch (1853 – 1930) was die dorp se eerste permanente ‘professionele musikant’ en het musiek ‘n groot deel van Stellenbosch se kultuur gemaak. Hy was maar 30 jaar oud toe hy Stellenbosch toe gekom het.
As musikant was Jannasch ‘n pianis en orrelis, maar op Stellenbosch het hy iets van alles gedoen - hy was die dorp se koor en orkesleier, het Sondae orrel gespeel in Moederkerk, was die ‘bandmaster’ van die Victoria College volunteers, moes die musiek van die CJV (Christelijke Jongenlieden Vereniging) waarneem, en het skoolgegee by die Rynse skool en toe by Bloemhof.
Jannasch was ook vlot in drie tale. Sy moedertaal was Duits (hy het in Duitsland skoolgegaan en in Stockholm sy musiekstudies voltooi), maar hy het met die Stellenbossers Hollands/Afrikaans gepraat en met sy vrou, ‘n Amerikaanse dame met die naam Carrie Ingraham, Engels.
Stellenbosch se eerste musiekskole
Toe hy 40 jaar oud is, het Jannasch sy eie musiekskool begin, die Stellenbosch Music School, of Greylock Music Academy soos dit bekend geword het. Sy woonhuis in Van Riebeeckstraat was Greylock genoem.
Op dieselfde tyd was daar ook ‘n musiekskool in Dorpstraat genaamd Villieria (gelei deur die susters Nancy de Villiers en Elizabeth von Willich), en nog ‘n musiekskool in Pleinstraat, waar Hans Endler aan die stuur was.
Endler en Jannasch se skole smelt saam
Jannasch en Endler se paaie het gekruis toe daar in 1904 besluit is om die drie privaat musiekskole in die dorp saam te smelt tot ‘n formele konservatorium.
Die vyf musikante, Jannasch, Endler, die susters Nancy en Elizabeth en een van Jannasch se vorige assistente, Armin Schniter, was die stigterslede.
Omdat die koserve nog nie deel van die universiteit was nie, het hierdie 5 individue dit op hulself geneem om ‘n gebou op te rig vir die nuwe musiekskool.
Hierdie gebou word vandag die ‘ou konserve’ genoem, die pragtige Renaissance gebou met sy boog-vensters wat in Van Riebeeckstraat langs die Botaniese tuin staan.
Die konserve word deel van die universiteit
In 1934 is die koservatorium deur die universiteit oorgeneem. Op die koserve webtuiste skryf hul: "In 1978 the department moved to its present premises, one of the best designed and well equipped music buildings to be found anywhere. It accommodates approximately 170 undergraduate and more than 70 postgraduate students, 100 certificate students as well as 21 full-time staff and 37 part-time teaching staff."
Die Fismersaal, een van die lokale in die nuwe konserve, is vernoem na Maria Fismer, wat in daardie tyd die eerste professor by die konservatorium was. Sy het vanaf die dorpie Robertson verhuis om haar diploma by Stellenbosch te doen, en het uiteindelik die eerste professor geword van die South African conservatorium of Music. Na sy jare later afgetree het as hoof van die konserve het sy ‘n eredoktorsgraad van die universiteit ontvang.
Verskillende persoonlikhede
Jannasch word onthou as ‘n teruggetrokke en stemmige persoon van Morawiese agtergrond (‘n klein groep binne die Calvinistiese kerk), met ‘n liefde vir die Geneefse Psalms . Hy het heelwat van die kerkorrels in SA help inwy, en was die persoon wat koormusiek in Moederkerk se liturgie bekendgestel het.
Hans Endler (1871- 1947) was heeltemal teenoorgesteld in karakter - hy was ‘n ekstrovert en almal se vriend, en het ‘n spesiale liefde gehad vir ‘bandmusiek’. Hans Endler het toegesien dat daar ‘n ‘bandstand’ in die Laan gebou is, en het heelwat promenade konserte daar gehou . Endler was ‘n Oostenryker, en het vir 6 jaar in London in verskillende orkeste gespeel voordat hy op aanvraag van PK De Villiers na Stellenbosch gekom het. Terwyl Jannasch meer gefokus was op orrel in klavierspel, was Endler ‘n violis en tjellis.